Silikose kom wyd voor by Suid-Afrikaanse myne

Deur Eric Graham
9 Oktober 2012

Die voorkoms van silikose is van die ergste ter wêreld onder Suid-Afrika se mynwerkers. 

Silikose is ‘n pynvolle siekte wat gebrek aan asem, ‘n gedurige hoes en kwaai borspyn veroorsaak. Dit maak die wat daaraan ly ook meer vatbaar vir tuberkulose. Die voorkoms van Vigs maak mense ook meer vatbaar vir tuberkolose.

Volgens die Departement van Gesondheid se Strategiese Plan vir Tuberkulose 2007-2011 is die voorkoms van tuberkulose onder goudmynwerkers die hoogste ter wêreld met tussen 3 000 en 7 000 van elke 100 000 werkers wat daaraan ly. Nasionale statistieke toon dat 920 mense per 100 000 in Suid-Afrika daaraan ly. Die Wêreld Gesondheidsorganisasie beskou ‘n voorkoms van 250 per 100 000 as ‘n noodtoestand. 

Silikose is een van die grootse bedreigings vir beroepsgesondheid ter wêreld en dit veroorsaak progressiewe en permanente fisiese skade en soms ook die dood. Silikose en verskeie ander verwante siektes waaronder tuberkulose, long-kanker, sklerose en andere word veroorsaak deur die inaseming van stof wat silika in ‘n kristallyne vorm bevat. 

Enige aktiwiteit wat die prosessering van rotsvormasies wat silika bevat kan die risiko vererger. Klein partikels wat silika bevat, kan as dit eers ingeasem is, die laer dele van ‘n mens se respiratoriese sisteem binnedring. Selle in die longe word veral beskadig en makrofage word ook geaffekteer. 

Partikels wat silika bevat is geweldig toksies, veral as dit pas gebreek is. Volgens bestaande navorsing is “vars” silika partikels baie meer geneig om selle te dood as dié wat lank reeds aan die lug blootgestel is. 

Sekere mynwerkers, veral rotsboorders, is veral vatbaat vir die siekte. 

In 1994 het ‘n kommissie van ondersoek bevind dat die laaste navorsing oor die siekte 60 jaar gelede gedoen is en veral oor wit werkers gegaan het. Die laaste navorsing oor swart werkers is in 1930 gedoen. 

Die gevaar van silikose is reeds bekend vir meer as 100 jaar. Die gebruik van ventilasie tegnologie, die regte toerusting vir werkers wat onder die grond werk, die monitering van stofpartikels, gereelde toetsing van werkers en algemene opvoeding van werkers kan help om die voorkoms van silikose te verminder en eindelik heeltemal uit te skakel. 

Studies in die 1990s het bevind dat sowat 30 persent van voormalige mynwerkers silikose het en sowat 24 persent van huidige werkers. Die meeste werkers was nie bewus daarvan nie.

‘n Prokureur wat goud mynwerkers verteenwoordig sê sowat 500 000 werkers het in die afgelope dekade longverwante siektes opgedoen. 

In 2003 het die mynsektor ‘n kampanje begin om van die voorkoms van silikose ontslae te raak en het teikens vir die vermindering van silika stofpartikels gestel. Professor Gavin Churchyard van die Aurum Instituut het egter gesê die vermindering van vlakke moet 50 persent laer wees as dié wat die industrie gestel het om die siekte heeltemal te voorkom.

Silikose word beheer deur die Wet op Beroeps-siektes in Myne en ander Werke en word sedert 1993 op ‘n gelyke grondslag op swart werkers toegepas. Die wet laat toe vir vergoeding en mynwerkers kan dit slegs kry indien hulle nie hof toe gaan nie. Die grootste bedrag wat uitbetaal kan word is R84 000 (omtrent $10 000) en die prosessering van eise is stadig en burokraties. 

In 2005 het ouditeure bevind dat die Kompensasie-fonds bankkrot was en dat mynmaatskappye selfs fooie sou moes hef om by te bly. Die beampte vir kompensasie van die Departement van gesondheid het voorgestel dat heffings wat deur die industrie betaal word van 32 sent (omtrent 4 US sent) per skof waar daar ‘n risiko bestaan na R9.38 (omtrent $1.17) verhoog word. Die Kamer van Mynwese het egter na die Noord Gauteng Hoër Hof gegaan om die beslissing te verander. 

Eric Gcilitshana, die NUM se nasionale sekretaris vir gesondheid en veiligheid, het gesê die unies kon nie die hofaksie teen die mynmaatskappye steun nie vanweë buitensporige regskostes.

In 2004 het ‘n mynwerker, Thembekile Mankayi R16 320 (omtrent $2 000) ontvang nadat hy silikose gekry het. Hy het toe ‘n eis van R2.6-miljoen (omtrent $325 000) teen AngloGold Ashanti ingestel. Die myn het hul beroep op bogenoemde wetgewing en gesê hy kon dus nie eis nie. Die Appélhof het bevind dat daar geen reg vir ‘n eis was nie. 

Mankayi het toe na die Konstitusionele Hof gegaan. Hulle het in Maart 2011 bevind dat die wetgewing nie kon verhoed dat die werker ‘n eis kon instel nie. Mankayi, 53, het egter ‘n paar dae voor hierdie beslissing gesterf en sy bydrae het verseker dat werkers eise kon instel. 

RBC Capital Markets het daarop gedui dat die beslissing van die Konstitusionele Hof die deur oopgemaak het vir baie ander om ook te eis. “Die goud-bedryf kan tot R100-biljoen hierdeur verloor,” volgens die RBC. 

In September 2011 het 450 goudmynwerkers wat verteenwoordig word deur Leigh Day & Co geregtelike stappe gedoen teen Anglo American in die VK om behoorlike kompensasie te bekom. Sedertdien het die getal werkers tot 1 200 gestyg. Hulle voer aan dat buitensporige blootstelling aan stof veroorsaak is deur Anglo American Gold South Africa (AASA), ‘n filiaal van die VK industriële reus. 

AASA gaan aanvoer dat hulle minder as ‘n 25 persent aandeel in die maatskappye waarvoor die werkers gewerk het, besit het en dat hulle in elk geval redelike stappe gedoen het om hul veiligheid te verseker. 

Anglo American ontken ook enige aanspreeklikheid vir werkers wat silikose of tuberkulose het wat hulle gekry het nadat hulle in myne waarby AA ‘n aandeel het, gewerk het.

Richard Meeran, ‘n vennoot by Leig Daly & Co sê daar is ooreenkomste met ‘n saak waar Suid-Afrikaanse asbes-werkers die Britse maatskappy Cape suksesvol hof toe geneem het: “Eerstens is daar ooreenkomste in die aard en oorsake van hierdie siektes en maniere om dit te verhoed en tweedens weet die industrie reeds vir meer as 100 jaar van hierdie siekte en derdens voer ons aan dat die industrie nie die belange van die werkers op die hart dra nie, want hulle is slegs op winsbejag ingestel”. 

In nog ‘n aksie teen AASA  het 18 voormalige werknemers van die President Steyn myn in die Vrystaat  besluit om hof toe te gaan. ‘n Arbitrasie verhoor deur die voormalige hoofregte Sandile Ngcobo en twee voormalige regters van die Appélhof sal op 2 September ‘n aanvang neem. Drie van die 18 eisers is reeds oorlede. Anglo het die ander 15 ondersoek en vyf is onmiddellik hospitaal toe gestuur. 

Op 21 Augustus het Charles Abrahams, ‘n prokureur wat meesal voormalige werkers verteenwoordig, hofstukke teen AngloGold Ashanti, Gold Fields en Harmony ingedien by die Johannesburgse streekhof. 

Die mynmaatskappye lyk of hulle nie die waarheid praat nie. Veral swart werkers dra reeds vir dekades geen beskermende klere nie. Hulle werk onder gevaarlike toestande en is dikwels in gebiede ingestuur waar daar kort vantevore ontploffings was. Maatskappye het dikwels geweet dat werkers silikose het, maar het hulle laat aanhou werk. As hulle nie meer kon werk nie, is hulle na die apartheid Bantustans gestuur om dood te gaan. 

Die feit dat mynwerkers by Marikana en ander myne kwaad is, is dus verstaanbaar. Hulle word elke dag gekonfronteer deur ‘n genadelose en meedoënlose vyand wat oor die laaste dekades baie van hul vriende gedood het en wat nou, met die hulp van die staat en die unies hul protesaksies met bloed wil bedek.