Afrikaans

Mursi, weermag debateer die instelling van krygswet terwyl golf van stakings Egipte skud

Voor die aanvang van ‘n moontlike broodstaking, en soos die stryd van werkers deur Egipte versprei, is die Egiptiese President Mohamed Mursi in samesprekinge met die weermag om krygswet in te stel.

Bakkers dreig met ‘n staking in protes teen ‘n regeringsbesluit om 400 miljoen Egiptiese pond ($59 miljoen) te weerhou wat bedoel was as betaling van die regering aan bakkerye wat lae-koste brood vir armes maak. Die brood verkoop vir 5 piastres, of minder as 1 VSA sent.

Bakkers verwag om die Eerste Minister, Hesham Qandil van die heersende Muslim Brotherhood te ontmoet om terme te bespreek. Verlede week het die Mursi regering gedreig met regstappe indien hulle staak.

Verskeie vervoer werkers het ook begin staak oor die laaste week, met busbestuurders in Mahalla, Kairo, Giza en ander stede wat protes aanteken teen brandstoftekorte en stygende brandstofpryse.

Mursi wil graag subsidies besnoei, veral vir brandstof en voedsel, wat omtrent 25% van die Egiptiese begroting uitmaak. Die Internasionale Monetêre Fonds (IMF) eis diep besnoeiinge aan hierdie subsidies, waarop die Egiptiese werkersklas staatmaak, as ‘n voorwaarde vir ‘n $4.8 biljoen lening aan die Mursi regering. Die VSA se Minister van Buitelandse Sake, John Kerry, het Kairo verlede maand besoek en het gedruk dat Egipte die IMF lening aanvaar.

In Tahrir Square was daar banniere van protes teen Kerry se besoek, met die woorde “Kerry, lid van die Broederskap,” of “Kerry, jy is nie hier welkom nie.”

Stakings en protesaksies het ondertussen deur Egipte versprei. Oor die laaste week het ‘n beraamde 1 300 fabrieke gesluit te midde van protesaksie in die Nyl Delta industriële sentrum by Mahalla in protes teen die Islamitiese regering, volgens die staat se dagkoerant, Al Ahram .

Skool en universiteit studente het ook protes aangeteken, en het aangedring op die ontseteling van die regime en van die Muslim Brotherhood.

Gister het universiteit studente gebots met veiligheidsmagte by die Misr Internasionale Universiteit in Kairo. Hulle is bygestaan deur studente van die Duitse Universiteit in Kairo, die Amerikaanse Universiteit in Kairo, die Britse Universiteit in Egipte, en lede van die Ultras White Knights, ‘n assosiasie van ondersteuners van Kairo se Al Ahly sokkerklub.

Protesaksies teen die Brotherhood het dwarsdeur Egipte versprei sedert dit in Port Said uitgebreek het op 26 Januarie toe Port Said sokker ondersteuners ter dood veroordeel is nadat hulle deelgeneem het aan ‘n dodelike polisie-geïnspireerde sokker oproer teen Al Ahly ondersteuners in Februarie 2012. (Sien ook: “Dodelike botsings breek dwarsoor Egipte uit na afloop van Port Said se hofbesluit”).

In Februarie het die proteste versprei deur die Suez Kanaal streek, insluitend na Suez en Ismailia, wat toegeneem het nadat daar op 9 Maart bevind is dat sewe polisie amptenare wat aan die oproer deelgeneem het, onskuldig was.

Die bevinding van die hof het ook ‘n breuk onder die polisie veroorsaak, met dele van die Egiptiese polisie en die berrugte Sentrale Veiligheidsmagte wat geweier het om betogers aan te val, wat vrees onder die heersersklas laat toeneem het. Vroeër vandeesmaand het die howe in Kairo verkiesings wat vir 22 April geskeduleer was, opgeskort.

Dit was veral op aangedring deur die bourgeois “linkse” partye, wat bevrees is vir ‘n hernieude opswaai in die werkersklas. Die voormalige VN diplomaat Mohamed El Baradei van die National Salvation Front (NSF) het die kanselasie van die verkiesing gesteun, en het gewaarsku dat verkiesings Egipte “op die pad van chaos en onstabiliteit sal plaas”.

Sondag het Mursi aangekondig dat hy dit oorweeg om “uitsonderlike maatreëls in te stel om binnelandse orde te herstel,” en hy het gesê hy is bevrees hy sal dit moet doen.

Volgens Al Ahram het Mursi Maandag die Minister van Verdediging Abdel-Fattah El-Sisi vir ‘n uur agter geslote deure ontmoet. Mursi het na verneem word vir El-Sisi gevra of hy sou saamstem met die uitsonderlike maatreëls. Oënskynlik het El-Sisi geweier om sy steun aan Mursi te gee.

El-Sisi het later verklaar dat “die ekonomiese, sosiale en veiligheids-uitdagings wat Egipte in die gesig staar vereis dat alle magte van die samelewing saamstaan en saam werk om die huidige krisis te bowe te kom.”

Die kapitalistiese partye is desperaat besig om ‘n funksionerende sisteem vir onderdrukking van die werkersklas te probeer vestig. Ver regse groepe wat met die Brotherhood geaffilieer is het planne voorgestel vir para-militêre afdelings of “veiligheids-militias” om die regime te beskerm.

Saber Adul Fotouh, die hoof van die arbeidskomitee van die Vryheids en Geregtigheidsparty (FJP), die Muslim Brotherhood se politieke arm, het die noodsaak daar gestel vir die ontwikkeling van “alternatiewe metodes om veiligheid in die land te handhaaf in die lig van die onlangse golf van polisie stakings.” “Alternatiewe metodes” verwys duidelik na die mobilisasie van ver regse groepe vir geweldadige aanvalle teen die Egiptiese werkersklas.

Lede van die Brotherhood vorm volgens verslae militias in meer landelike gebiede, soos in die suidelike provinsies van Bo Egipte.

Die NSF en ander pro-kapitalistiese opposisie partye het ondertussen die moontlikheid van ‘n koalisie-regering tussen die sekulêre partye geopper, om die Brotherhood te vervang en die rol van die weermag uit te brei.

Die Brotherhood se onderdrukking kom te midde van aanduidings dat imperialisme deur die VSA daarna soek dat meer sekulêre magte deelneem aan die proxy oorlog teen die Siriese President Bashar al-Assad in die besonder, asook meer breedvoerig deur die streek.

Die Brotherhood is bang dat dit veld verloor aan teenstaanders binne die Egiptiese politieke establishment en dreig nou om befondsings-bronne van die “linkse” partye af te sny voordat hulle voortgaan met die onderdrukking van die partye.

Die FJP druk vir strenger wette teen buitelands befondsde Nie-regerings Organisasies (NROs) wat in Egipte werksaam is. Washington werk ten nouste met die NROs saam, en smee bande met klein burgerlike groepe en vak-unies, om werkersklas stryde te onderdruk en VSA imperialisme te bevorder.

Die regime het ook hofbevele uitgereik teen vyf aktivistiese bloggers en teen 169 addisionele persone, insluitend party-leiers, beweerde boewe en politieke figure. Dit sluit in die leier van die Egiptiese Sosiale Demokratiese Party, Mohamed Abul-Ghar, Vrye Egiptiese Party leier Mahmoud El-Alaily, en die voormalige lid van die Rewolusie Jeug Koalisie, Khaled Telima. Die wat vir ondervraging gedagvaar is word daarvan beskuldig dat hulle oproere teen die Brotherhood op 22 Maart aangewakker het.

“Indien ondersoeke bewys dat politieke figure betrokke is, sal die nodige stappe geneem word, wat ookal hulle status,” het Mursi Sondag op Twitter gesê. Dit is ook deur die staat se televisie uitgesaai.

Hy het bygevoeg, “Ek is president na die rewolusie, wat beteken dat ‘n paar mense slagoffers kan wees sodat die land vorentoe kan beweeg. Dit is absoluut geen problem nie.”

Terselfdertyd oorweeg dele van die weermag of Mursi nie dalk van sy pos onthef moet word en om bourgeois en pseudo-linkse partye aan te stel in sy plek nie, want hulle dink dat hierdie magte veel beter in staat sal wees om die situasie te beheer as die Brotherhood.

Generaal Mohamed Ali Bilal het die “duidelike ondoeltreffendheid van die huidige administrasie” gekritiseer, en het die Brotherhood aangeval omdat hulle “metodes soortgelyk aan die vorige regime” van Hosni Mubarak gebruik. Mubarak is omvergewerp in Februarie 2011 deur die werkersklas tydens massa proteste.

Loading