Afrikaans

Suid-Afrika se ANC by 100: ‘n Balansstaat van bourgeois nasionalisme

Die honderd-jarige feesvieringe van Suid-Afrika se African National Congress verskaf ‘n goeie geleentheid vir ‘n balansstaat oor die karakter en toekoms van die ANC en ander soortgelyke bourgeois nasionalistiese organisasies.

Die ANC is in 1912 gestig en is dus een van die oudste van hierdie organisasies en is aanvanklik deur die ouer Indian National Congress geïnspireer. Dit het ‘n kern-rol gespeel in die onderhandelde einde van die apartheids-regime in Suid-Afrika en regeer die land reeds vir die laaste 18 jaar.

Die 100-jarige verjaarsdag is deur die ANC gebruik om te poog om nuwe aansien te verdien uit die lang geskiedenis van die stryd teen die brutale apartheids-sisteem waartydens baie mense doodgemaak of tronk toe gestuur is, en werkers en jeugdiges in die land se swart woonbuurte ‘n heldestryd teen swaar gewapende magte gevoer het.

Maar soortgelyk aan ander lande waar bourgeois nasionalistiese of “nasionale bevrydings-organisasies” die mag oorgeneem het, het die leierskap van die ANC geensins die behoeftes van die menigtes wat deelgeneem het aan die sogenaamde “struggle” erken nie. Die ANC het hierdie mense se opofferinge slegs gebruik om hul eie integrasie as leiers onder die imperialistiese en kapitalistiese onderdrukkers te verseker, en heelwat van die vroeëre voorstanders van die vryheidsbeweging het multi-miljoenêrs geword.

Tydens ‘n oënskynlik doellose toespraak van 90 minute wat verlede naweek gelewer is voor ‘n skare in Bloemfontein, die stad waar die ANC 100 jaar tevore gestig is, het President Jacob Zuma lank gepraat oor die organisasie se geskiedenis. Hy het egter baie min konkrete voorstelle verskaf om die lewenstoestande van die onderdrukte meerderheid van die land se inwoners te verbeter.

Hierdie toestande het net slegter geword tydens die amper twee dekades van die ANC se heerskappy. Onderwyl rassistiese apartheid ten einde geloop het, het die skeiding tussen die ryk elite en die meerderheid werkers vergroot. Sosiale ongelykheid, wat deur die Gini koëffisiënt gemeet word, is vandag erger in Suid-Afrika as in enige ander land, behalwe in Namibië. Sowat 70 persent van die land se inwoners leef onder die broodlyn. Die amptelike werkloosheidsyfer is omtrent 25 persent, maar volgens meer realistiese beramings is dit nader aan 40 persent.

Sogenaamde “vryemark hervorminge” het verseker dat diegene aan die bopunt van die samelewing, insluitend die ou wit heersers-elite  en ‘n nuwe groep onder die ANC se top echelon en vakbond burokrasie, ongelooflik baie welvaart bymekaar gemaak het. Mense soos Cyril Ramaphosa, die voormalige leier van die Nasionale Unie van Mynwerkers en sekretaris-generaal van die ANC – wie nou na raming ‘n persoonlike fortuin van $275-miljoen het – het die hoof-begunstigdes van die ANC se beleid van Swart Ekonomiese Bemagtiging (BEE) geword. Hierdie beleid is ingelui nadat die ANC die land oorgeneem het.

Die Afrika geskiedkundige Achille Mbembe het die ANC korrek beskryf as ‘n party wat “verteer word deur korrupsie en gierigheid, brutale en moorddadige magstryde en ‘n dodelike kombinasie van predatoriese instinkte en intellektuele ledigheid”. 

Onderwyl die honderd-jarige feesfieringe fokus op die ANC se glorie-dae van onwettige optrede en ‘n “gewapende stryd” en aan die party ‘n tydige afleiding van hierdie realiteite verskaf, was die aanvang van hierdie probleme reeds van die begin duidelik.

Die ANC is gebore binne die konteks van die stryd tussen die oorheersende koloniale magte en groepsbelange en die unifikasie van Britse imperialisme met dié se voormalige vyande, die Boere, onder die vaandel van die onderdrukking van die swart meerderheid en die onteiening van hul grond. Die ANC het aldus as voorstander van ‘n swart middelklas na vore getree. Dit het aanvanklik nie gepoog om imperialisme te verslaan nie, maar het dié belange se steun gesoek deur as bemiddelaar tussen die wit heersersklas en die menigte swart werkers en onderdruktes op te tree.

In 1956 het Nelson Mandela die ANC se doelstellings opgesom en hy het belowe dat daar nie ‘n sosialistiese bestel sal wees nie, maar eerder “vir die eerste keer in hierdie land se geskiedenis sal die nie-Europese bourgeoisie die geleentheid kry om hul eie naam en fabrieke te besit, en dus sal handel en privaat-ondernemings soos nooit vantevore floreer”. Hierdie visie het nou sy vervulling gekry met die meerderheid swart werkers wat weereens die onderspit gedelf het.

In die 1960s het die ANC begin met meer Stalinisties geïnspireerde retoriek van klassestryd en revolusie in samewerking met die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party, maar Mandela se perspektief om die aspirerende swart bourgeoisie te verryk en bemagtig het die ANC se hoof doelstelling gebly. Toe die opstande in Soweto en ander swart woongebiede die land onregeerbaar begin maak het, het die land se heersende wit elite, met die Anglo-American Corporation aan die spits, onderhandelinge van stapel gestuur om ‘n vreedsame einde aan apartheid te bewerkstellig en magsoorname te verseker. Die elite se doel was om die revolusionêre uitdaging van onder te keer en hul eie status quo te handhaaf. Mandela en die ANC het hiertoe ingestem.

In 1935 het Leon Trotsky reeds in ‘n brief aan sy ondersteuners gewaarsku dat “die Congress (ANC) ‘n onvermoë het om hul eie eise te bewerkstellig vanweë die oppervlakkige en toenaderende beleid” van die organisasie. 

Hierdie waarskuwing was eindelik akkuraat. Die ANC se groei-trajek, soos die van ander bourgeois nasionalistiese en nasionale bevrydingsbewegings in Asië, Afrika, Latyns-Amerika en die Midde-Ooste – insluitend die Indian Congress Party, die Palestynse Bevrydingsbeweging en die Sandinistas – het dié fundamentele perspektief van Trotsky in sy Teorie van Permanente Revolusie as korrek bewys. 

Trotsky se perspektief het bevind dat die bourgeoisie in onderdrukte lande waar die verband tussen imperialsime en ‘n vrees van die werkersklas bestaan, ‘n organiese onvermoë het om demokrasie te bewerkstellig en ‘n einde aan imperialistiese dominasie te verseker.

Dit kan slegs deur die werkersklas gedoen word wanneer dié klas mag oorneem en ‘n sosialistiese revolusie dus volg. Dit is deel van die globale stryd van die internasionale werkersklas om ‘n einde te maak aan kapitalisme.

 Die ANC se 100ste verjaarsdag is dus gevier te midde van indikasies dat die klassestryd weer in Suid-Afrika na vore getree het, aangevuur deur die globale krisis soos ervaar deur kapitalisme. Suid-Afrika se werkers sal dus eindelik met die land se regering in konflik tree en die ryk kapitaliste en trans-nasionale banke en korporasies daardeur verteenwoordig. ‘n Nuwe leierskap onder die werkers word daardeur genoodsaak gebasseer op die sosialistiese perspektief om ware demokrasie, gelykheid en sosialisme te verseker.

Dit beteken noodwendig dat ‘n Suid-Afrikaanse lid van die sogenaamde International Committee of the Fourth National gestig moet word.

Loading