Suid-Afrika se golf van stakings brei uit na hele mynsektor, asook die vervoerbedryf

Deur Chris Marsden
28 September 2012

Die golf van stakings wat by Lonmin se Marikana platinum myn begin het, beslaan nou Suid-Afrika se platinum, goud en steenkool sektore en het ook na die vervoerbedryf en andere uitgebrei.

‘n Totale aantal van 100 000 werkers staak tans regoor die land.

Op 16 Augustus het die polisie op stakende werkers by Marikana geskiet en 34 is gedood en nog 78 beseer. Die bittere stryd het slegs geëindig nadat aan die werkers se eis vir ‘n 22 persent salarisverhoging toegegee is. Dit het daartoe aanleiding gegee dat werkers in ander sektore ook begin staak het.

David Davis, ‘n analis in die goudbedryf het gewaarsku dat ander werkers eise stel volgens die voorbeeld by Marikana.

Hy het bygevoeg dat die land deur onwettige stakings verswelg kan word.

Anglo American Platinum (Amplats), die wêreld se grootste platinum produsent, sê 21 000 werkers is aan die staak en hulle eis ‘n soortgelyke loonverhoging as die by Marikana. Slegs 20 persent van hulle werkers het teen Vrydag vir werk opgedaag by vier myne in Rustenburg.

Die Amplats werkers hou vol dat die Marikana werkers reg is in hul oordeel dat die National Union of Mineworkers slegs die belange van die werkgewers dien en het die NUM se pogings van die hand gewys. Hulle aanvaar ook nie die wegbreek-unie, die Association of Mineworkers and Construction Union (AMCU) nie en het self ‘n leierskap wat uit werkers bestaan, verkies.

AngloGold het ten spyte hiervan gesê die stakings was “uiteraad gekoördineerd”.

 ‘n Woordvoerder van die NUM, Lesiba Seshoka, het gesê: “Ons grootste rede vir kommer is dat as daar sporadiese eise in die industrie is, kan dit die hele proses van kollektiewe bedinging ondermyn en dit kan slegs tot chaos lei.”

 Sogenaamde wildcat stakings het begin by GoldFields, AngloGold en ander maatskappye se myne. Sowat 39 persent van die industrie kapasiteit is geraak en werkers dring aan op ‘n verhoging van 22 persent in hul salarisse.

AngloGold Ashanti, die wêreld se derde grootste goud produsent, het vandeesweek al hul aktiwiteite gestaak. Die meeste van hulle 35 000 werkers het by die wildcat stakings aangesluit wat op 20 September by Kopanong begin het.

Die grootste vrees van die mynbestuur is dat die werkers hul amptelike unies ignoreer. Die unies funsksioneer as ‘n tipe industriële polisiemag. Alan Fine, ‘n woordvoerder vir AngloGold, het aan die Financial Times gesê: “Die eintlike vrees is dat die proses van kollektiewe bedinging wat sedert die mid-1980s bestaan, gaan verbrokkel. Dit is ons uitdaging om te verseker dat dit bly voortbestaan.”

Coal of Africa het ook aangekondig dat werknemers by hul Mooiplaats myn begin staak het. Dit is die eerste staking in die steenkoolbedryf sedert Marikana.

‘n Staking deur 20 000 werkers in die vervoerbedryf het toenemend ernstig begin raak nadat hulle ‘n 12 persent salarisverhoging as eis gestel het. Dit is ten spyte van die bestaan van vier tradisionele unies – die South African Transport and Allied Workers’ Union, die Professional Transport and Allied Workers’ Union South Africa, die Transport and Allied Workers’ Union of South Africa en die Motor Transport Workers’ Union.

 ‘n Aantal trokke is uitgebrand en nooddienste is ingeroep om die situasie te probeer beheer nadat stakende werkers gehospitaliseer is.

Die hoof uitvoerende beampte van AngloGold Ashanti, Mark Cutifani, het gewaarsku dat die eise vir lone ‘n risiko vir die land is.

Die werkgewers het intussen toenemend oorlogsugtige dreigemente begin maak en Amplats het Vrydag dissiplinêre aksies begin instel en gedreig met afdankings. Gold Fields het ‘n tweede interdik teen hul werkers by hul Beatrix myn verkry wat beteken “dat dit ‘n daadwerklike opsie word dat werkers afgedank kan word.”

Die hoof bedreiging vir die werkers kom egter van die staat en die ANC regering.

Die Minister van Arbeid, Mildred Oliphant het verklaar dat daar geen “regverdiging vir die onlangse onwettige stakings bestaan nie” en dat daar geen verskoning bestaan vir “onwettige optrede nie.”

In New York het President Jacob Zuma Woensdag aan die Associated Press gesê die onwettige stakings was nie as gevolg van ongelykhede nie maar was as gevolg van die Marikana staking en die wyse waarop die staking opgelos is en omrede die betrokke unies nie na die voorgrond getree het nie.

Dit het sommige ander mynwerkers ook beïnvloed om te staak, het hy gesê.

Die repudiasie van die vakbonde stel ‘n reuse politieke krisis aan die bourgeoisie voor.

Alexander Joe skryf as volg vir AFP: “Die geweldadige krisis wat Suid-Afrikaanse myne geskud het, wys dat die werkers nie die tradisionele unies vertrou nie. Die unies was dusver die beskermers van sosiale vrede ongeag die land se ongelyke verlede.”

Hy haal die analis Daniel Silke aan, wat verduidelik, “Marikana het die potensiaal vir ‘n era in arbeidsverhoudinge in Suid-Afrika waar geweldadige stakings die verswakte besture van maatskappye kan dwing om toe te gee. Dit staan lynreg teenoor die geskiedkundige onderhandelingsmeganismes soos deur COSATU en die ander unies voorgestaan.”

Silke skryf dat die sleutel is of COSATU en die vakbonde beheer kan hou oor die meer militante werkers wat bloed geruik het by Marikana.

Die gepaardgaande massa politieke en sosiale beweging van die werkersklas ondermyn COSATU se verhouding met die ANC en die regerende party verkeer in ‘n krisis waarvaan die konflik tussen Jacob Zuma en Julius Malema van die ANC se Jeugliga die duidelikste voorbeeld is.

Woensdag het Malema voor die Polokwane Streekshof verskyn op aanklagte van geldwassery. ‘n Korrupte “tenderpreneur” is hy miskien, maar hy is ‘n amateur in vergelyking met die wat die hofaksie ingestel het, soos Zuma self.

Om sy saak te versterk stel Malema homself voor as ‘n vriend van die mynwerkers en hy het ‘n beroep gedoen vir die industrie om te nasionaliseer. Maar hy poog slegs dat sy eie faksie binne die ANC voorrang geniet en nie om die party se rol as apologeet van die bourgeoisie en ook van die banke en korporasies te ondermyn nie.

Malema kon slegs ‘n duisend ondersteuners buite die hof bymekaarbring maar het sy ondersteuners in die ANC daar gekry, insluitend die voormalige Jeugliga sekretaris Sindos Magaqa wat tans die leier is van die Vriende van die Jeugliga.

Buite die hof het Malema ‘n punt daarvan gemaak om sy steun vir Kgalema Mothlante en Fikile Mbabula, wie Zuma vir die ANC leierskap kan uitdaag, uit te druk.

Malema het gesê “ons moet seker maak Jacob Zuma word nie die president van die ANC nie … die volgende dag moet ons hom verwyder as president en die dag daarna aankla.”

COSATU se President, Sidumo Dlamini, het Donderdag gesê hulle wil stabliliteit in die ANC se leierskap hê by die nasionale kongres in Mangaung in Desember. Aan die einde van COSATU se jaarlike kongres het Dlamini gesê die land het nie faksies nodig nie, maar wel stabiele leierskap.