Afrikaans

Suid-Afrikaanse polisie onderdruk stakende werkers

Die Suid-Afrikaanse polisie het Donderdag met outomatiese wapens begin vuur op stakende platinum mynwerkers in die land se Noordwes Provinsie. Minstens 30 mense is doodgeskiet. Ander verslae sê die dodetal kan so hoog as 40 wees.

Nadat die polisie vir drie minute gevuur het, het liggame die gebied besaai. Die Minister van Polisie, Nathi Mthethwa, het aan die media gesê, “baie mense is beseer en die aantalle raak net meer”.

Die massa-moorde het plaasgevind op die sesde dag van ‘n staking deur werkers by die Marikana myn van die Brits-beheerde Lonmin Plc, die wêreld se derde grootste platinum mynmaatskappy. Duisende rotsboorders het verlede Vrydag uit die myn geloop om aan te dring op ‘n verdubbeling van hul salarisse. Die platinum mynwerkers is van die laags besoldigde in Suid-Afrika en die mynwekers voer aan dat min verander het sedert die einde van apartheid sowat twee dekades gelede.

Die situasie is vererger deurdat Lonmin ‘n ultimatum aan werkers gestuur het dat hulle afgedank sal word indien hulle nie terugkeer na hul werk nie. Die Suid-Afrikaanse polisie het intussen voor die slagting onderneem om ‘n einde aan die werkers se stryd te maak.

Provinsiale Polisie-kommisaris Zukiswa Mbombo het aan die media op Donderdagoggend gesê “ons doel is om seker te maak dat mense daardie onwettige samekoms verlaat en dit is wat ons vandag gaan doen … vandag maak ons ‘n einde aan hierdie saak”.

Voordat die polisie die werkers doodgeskiet het, sommige waarvan op ‘n koppie buite die myn saamgedrom het, het hulle probeer om hulle weg te dryf deur hulle te omsingel met draad, traangas, handgranate en ‘n waterkannon. Tydens die deurmekaarspul wat deur hierdie aanval veroorsaak is, het ‘n kolom werkers met machetes en stokke ‘n groep polisie-beamptes wat op hul beurt met outomatiese wapens bewapen was, bestorm. Video materiaal wys hoe die polisie die wekers, wat hulself nie kon beskerm nie, geskiet het.

Die wreedaardige onderdrukking, wat oral vergelykings met die slagtings deur die apartheidsregering in Sharpeville in 1960 en Soweto in 1976 tot gevolg gehad het, het die volle steun van die African National Congress (ANC) regering en sy grootste ondersteuner, die Nasionale Unie van Mynwerkers (NUM) gehad. Die NUM het met die mynbestuur en die regering saamgewerk om die staking te beeïndig.

Onderliggend aan die konflik is die uitdaging wat die wegbreek-unie, die Association of Mineworkers and Construction Union (AMCU) aan die NUM gerig het. Die AMCU het ‘n beduidene hoeveelheid werkers onder hul vaandel georganiseer wat ontevrede is oor die onderdrukking van werkers ten gunste van die eienaars van die myne en die ANC regering. 

Volgens sommige beramings het die AMCU die steun van ‘n derde van die werkers by Lonmin se Marikana myn, die NUM het die steun van ‘n derde en nog ‘n derde is nie by enige van die twee geaffilieer nie. In die dae voor die slagting by Marikana  is tien mense dood in geweld wat gevolg het op konflik tussen lede van die twee unies en die polisie. 

Beide die NUM en die ANC regering het dit na die slagting probeer regverdig onderwyl die meeste Suid-Afrikaners met skok gereageer het op die verwikkelinge.

NUM woordvoerder Lesiba Seshoka het aan die media gesê, “die polisie kan nie net toekyk terwyl die land deur kriminele op hierdie wyse oorgeneem word nie”. Mynwerkers het gesê dat NUM amptenare direk met die polisie saamgewerk het om die onderdrukking te organiseer en van hulle is gesien in Caspir voertuie van die polisie. 

Suid-Afrika se President Jacob Zuma van die ANC het gesê hy is “geskok en uiters ontsteld deur hierdie sinnelose geweld.” Hy het spoedig bygevoeg dat “ek het die rolspelers in wetstoepassing beveel om alles moontlik te doen om die situasie onder beheer te bring en om oortreders aan te keer.” Hy het duidelik nie die polisie in gedagte gehad nie, maar hul slagoffers onder die mynwerkers. 

Die NUM en die vakverbond waarby dit geaffilieerd is, die Congress of South African Trade Unions (COSATU), is groot ondersteuners van die regering, wat op hul beurt die belange van die myn-organisasies en ander leiers van buitelandse en plaaslike kapitale belange beskerm.

Nuwe werkers-unies soos die AMCU en die Professional Transport & Allied Workers Union (PTAWU) het onlangs steun bygekry ten koste van die NUM en COSATU. Dit het voortgespruit uit werkers se frustrasie dat unie leiers by die regering en myn-organisasies geïntegreer is. 

Hierdie verhoudinge word uitgebeeld in die persoon van Cyril Ramaphosa, een van die mense wat die meeste by die regering se beleid van Swart Ekonomiese Bemagtiging (BEE) wat na apartheid gevolg het, baat gevind het. Hy en ander is by die direksies van groot korporasies gevoeg, het groot regeringskontrakte gekry en reuse fortuine daardeur bekom. Hy is nou een van die land se rykste mense en verlede jaar is sy persoonlike fortuin op $275 beraam, ‘n groot deel waarvan op mynbelange gerig is. 

Die AMCU het genoeg steun by die Lonmin myn gewerf om amptelik deur die myn as unie erken te word. By die Impala myn buite Rustenburg, die wêreld se tweede grooste platinum produsent, sê die AMCU hulle het die steun van meer as helfte van die 20 000 werkers. Die maatskappy is tans besig met ‘n onafhanklike oudit om te bepaal wie as bedingings-agent moet optree. 

Hierdie verwikkelinge, weg van die unies wat by die ANC geaffilieerd is, is simptomaties van sosiale onrus onder die werkersklas wat volg op gevoelens van wrok na aanleiding van die vlakke van sosiale ongelykheid in die land, wat van die hoogste in die wêreld is. Die werkers is toenemend ontevrede met die ANC en die klas van swart kapitaliste wat dit geskep het ten koste van die meerderheid werkende mense. 

Die onrus by die myne vind voorts plaas binne die konteks van toenemende ontevredenheid in arm landelike gebiede oor die regering se onvermoë om basiese dienste soos behuising, elektrisiteit, water en sanitasie te verskaf. 

Ten minste vier mense is dood gedurende die laaste week in Kaapstad tydens onluste.

Treine, voertuie en polisie-stasies is bestook en paaie is met brandende bande geblokkeer deur werkers en jeugdiges wat protes aangeteken het oor ongeskikte behuising, verswakkende infra-struktuur en swak openbare dienste. 

Die onluste is aangewakker deur die effek van die globale kapitalistiese krisis op Suid-Afrika, wie se ekonomie swaar staatmaak op Europa, wat in ‘n krisis verkeer. Die land se amptelike werkloosheidsyfer staan op 25 persent, maar baie sê dis nader aan 40 persent. Vooruitskattings vir groei is drasties verminder tot 2.7 persent. Ontleders waarsku dat ‘n groeikoers van 7 persent nodig is om die werkloosheidsyfer op ‘n beduidende wyse aan te spreek. 

Ondertussen het Suid-Afrika se rykste 100 mense ‘n toename van 62 persent ervaar in hul netto verdienste, terwyl meer as die helfte van die land se 50 miljoen mense onder die broodlyn leef.

Loading